Inleiding
Mei is ’n belangrike maand op die Suid-Afrikaanse kalender. Dit is veral waar van 2019. Op 1 Mei 2019 het ons Werkersdag gevier. ’n Week later is die land na die stembus toe om te stem in die algemene verkiesings.
Suid-Afrikaners het dus al 25 jaar lank die voorreg om binne ’n demokratiese bestel te leef en om hul arbeidsregte te vier. Die vraag wat nou gevra kan word is: hou die Arbeidswet tans tred met die behoeftes van ons samelewing? Hierdie artikel oorweeg tot watter mate Arbeidsregte in die afgelope 25 jaar bevorder is.
Bevordering van Arbeidsregte
- Bevordering van billike verlof vir alle ouers
Soos u dalk bewus is, is die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (die “BCEA”) onlangs gewysig. Die Wet erken nou ander vorme van verlof buiten die tradisionele swangerskap verlof waarmee Suid-Afrikaners bekend is. Die laasgenoemde verlof sal steeds van krag bly in die toekoms, maar die Wetgewer het verder voorsiening gemaak vir nuwe vorme van verlof wat “moderne families” gelyke arbeidsregte sal bied.
Heteroseksuele paartjie waar die moeder geboorte skenk
Die moeder wat geboorte skenk sal in hierdie omstandighede geregtig wees op die standaard vier maande swangerskapsverlof. Die Wet is egter nou ook gewysig om vir die vader in hierdie verhouding ook tien agtereenvolgende dae van ouerlike verlof te bied.
Homoseksuele paartjie waar die moeder geboorte skenk
In hierdie geval sal die een ouer geregtig wees op 10 agtereenvolgende dae ouerlike verlof, terwyl die ander ouer geregtig sal wees op 10 agtereenvolgende dae van verlof. Die keuse van watter ouer watter verlof sal neem, sal rus by die ouers.
Indien een van die paartjie geboorte geskenk het, sal hierdie moeder egter steeds geregtig wees op vier maande van swangerskapsverlof.
Ongeag seksuele oriëntering, waar ’n enkelouer of paartjie ’n kind jonger as 24 maande aanneem
In hierdie geval, sal een ouer geregtig wees op 10 agtereenvolgende dae ouerlike verlof, terwyl die ander ouer geregtig sal wees op 10 agtereenvolgende dae van verlof. Waar die ouer ’n enkel ouer is, sal die ouer geregtig wees op 10 agtereenvolgende dae van verlof. Weereens sal die keuse van watter ouer watter verlof sal neem, rus by die ouer.
Ongeag seksuele oriëntering, waar ’n enkelouer of paartjie ’n kind van ’n surrogaat verkry
Hierdie scenario werk dieselfde as die van ’n enkelouer of ’n paartjie was ’n kind jonger as 24 maande aanneem.
Hierdie wysigings het nog nie inwerking getree nie. Ons vermoed dat die vertraging veroorsaak word deur die feit dat alle partye wat ingevolge die wet kan eis, nou by die Werkloosheids Versekeringsfonds sal moet aansoek doen om uitbetalings van hul verlof. Die Fonds is waarskynlik tans besig om die prosesse in werking te stel om hierdie uitbetalings moontlik te maak.
- Bevordering van gelyke geleenthede en regverdige behandeling van alle werknemers
Daar is twee doelwitte van die Employment Equity Act (“EEA”). Eerstens poog die Wet om te verseker dat gelyke geleenthede en regverdige behandeling in die werksplek bevorder word deur die uitwissing van onbillike diskriminasie. Tweedens, poog die Wet op regstellende aksie te bevorder deur die benadeling van minder bevoorregte groepe aan te spreek. Dit word gedoen deur die bevordering van gelyke verteenwoordiging van alle groepe werknemers op alle vlakke van die werksmag.
Hierdie wetgewing het alreeds ’n groot impak gemaak op die bevordering van gelykheid in die Suid-Afrikaanse werksplek. Eerstens bied dit vir werkgewers, werknemers en selfs applikante riglyne rakende hul regte en verantwoordelikhede in die werksplek.
Die Wet vereis ook dat werknemers aan die Departement van Arbeid moet verslag lewer oor hoe hul gelykheid in die werksplek bevorder. Ernstige boetes word ook uitgereik aan werkgewers wat versuim om gelykheid in die werksplek te bevorder.
- Bevordering van die uitwissing van vaardighede gapings in die werksplek
Die Vaardigheid Ontwikkelingswet dra derdens by tot die bekamping van die groot vaardigheidsgaping wat Suid-Afrika in die gesig staar. Die Suid-Afrikaanse geskiedenis het ’n onontkenbare vaardigheidsgaping veroorsaak. Hierdie Wet poog om hierdie probleem aan te spreek deur ’n institusionele raamwerk daar te stel om nasionale, sektorale en werksplek strategieë in plek te stel om die Suid-Afrikaanse werkersmag te ontwikkel en te verbeter.
Tweedens poog hierdie Wet om leerlingskappe te bied wat sal aanleiding gee tot erkende kwalifikasies. Derdens reguleer die Wet werkverskaffers wat andersins moontlik werksoekers kon uitbuit.
Een van die beste eienskappe van hierdie Wet is egter dat dit voorsiening maak vir die finansiering van vaardigheidsontwikkeling in die werksplek wat deels gedek word deur die Nasionale Vaardigheidsfonds. Werkgewers het dus ’n insentief om meer vaardigheidsontwikkeling te doen.
- Bevordering van billike vergoeding van werknemers
Waarskynlik die mees opspraakwekkende byvoegings tot die Arbeidsreg is die Nasionale Minimum Loon Wet (NMLW). Die NMLW is van toepassing op alle werkgewers en werknemers. Dit stel die minimum loon koersvas op R20.00 per uur. Daar is ’n paar uitsonderings op die reël waar die loon koers ietwat verskil, naamlik plaaswerkers, huishulpe, werknemers wat vir die staat werk asook diegene wat leerlingskappe aanvaar het.
Die Departement van Arbeid het ook onlangs aangekondig dat hul ’n nuwe nakomingsvereiste in plek sal stel om te verseker dat werkgewers die voorgeskrewe lone betaal. Dit kom voor in die vorm van ’n anonieme rapporteer stelsel, naamlik Impimpi Alive. Werknemers kan met behulp van hierdie platform die Departement van Arbeid inlig indien hul werkgewers versuim om die wet na te volg.
Uitdagings wat die Arbeidsmark in die gesig staar
Statistiek SA se huidige beraming van die bruto binnelandse produk (BBP) beraam dat die Suid-Afrikaanse ekonomie skerp gedaal het met 3.2% in die eerste drie maande van 2019. Dit is die skerpste daling sedert die eerste kwartaallikse daling in 2009.
Sewe uit die tien industrieë is getref, waarvan die drie hoof industrieë die vervaardigings-, myn- en handels industrie is. Dit is veral kommerwekkend, aangesien hierdie drie industrieë baie arbeidsintensief is.
Die ekonomiese daling en bestaande hoe werkloosheidsyfer wek verdere kommer. Die handhawing van ’n goeie balans tussen die beskerming van arbeidsregte en die bevordering van die ekonomie het nou krities geword.
Samevatting
Dit is duidelik dat vordering gemaak is met betrekking tot die bevordering van billike verlof vir alle ouers asook van gelyke geleenthede en regverdige behandeling van alle werknemers, die uitwissing van vaardighede gapings in die werksplek en billike vergoeding van werknemers. Of hierdie vordering egter genoegsaam is om die uitdagings wat die Arbeidsmark in die gesig staar te akkommodeer, is egter onseker. Die aanhoudende bevordering van arbeidsregte in lyn met die Grondwet is dus noodsaaklik om tred te hou met die behoeftes van ons veranderende samelewing.