Dit is moontlik dat u tans ’n werknemer van wangedrag verdink. U mag dit selfs oorweeg om die werknemer te versoek om ’n poligraaftoets af te lê. Voordat u egter uself hiertoe wend, beveel ons aan dat u die Suid-Afrikaanse regsposisie aangaande hierdie toetse noukeurig sal oorweeg.
’n Poligraaftoets word nie deur ons reg as deurslaggewende bewys van wangedrag aanvaar nie. Tog kan poligraaftoetse ongetwyfeld nuttig in die ondersoekproses wees. Alhoewel dit nie as grondslag vir ’n saak kan dien nie, kan dit wel gebruik word om direkte- of omstandigheidsgetuienis te rugsteun of om die kredietwaardigheid van persone te toets om sodoende die bewyslas in u guns te beklink.
Keuse van ’n poligraaftoetser
Poligraafresultate kan die omvang van ’n ondersoek verklein, maar die grootste waarde (of gebrek) daaraan is dat dit as ’n bewys kan dien. Dit is daarom verstandig om vanuit die staanspoor in ag te neem wat die mees ongewenste uitkoms in so ’n saak kan wees, naamlik dat ’n ontslag voortspruitend uit so ’n ondersoek by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) kan beland.
Daar is tans heelwat poligraaftoets diensverskaffers. Hulle het verskeie verskeie poligraaftoetsers tot die beskikking van werkgewers wat hul dienste aanbied op tye wat werkgewers pas. Poligraaftoetsing kan egter baie duur wees. Maak dus baie seker dat u u geld goed spandeer. Maak seker dat u poligraaftoetser by die arbitrasie aanwesig is om te kan getuig ten opsigte van die toets se betroubaarheid. Ongekwalifiseerde poligraaftoetsers se uitslae sal nie deur geen Kommisarisse aanvaar word nie.
Ervare poligraaftoetsers weet wat Kommissarisse vereis om ’n saak te bewys. Dit sluit in: ’n opsomming van u poligraaftoetser se erkende kwalifikasies en die toets wat gebruik is; bevestiging dat die toets aan al die erkende standaarde van poligraaftoetsing voldoen asook bevestiging dat die toetsresultate betroubare bewys van misleiding toon. Neem egter in ag dat poligraaftoetsers geregtig is op ’n bykomstige fooi vir sy of haar verskyning tydens die arbitrasie.
Wat om te verwag
Poligraaftoetsers stel oor die algemeen ’n uiters beperkte lys van vrae aan werknemers. Maak dus seker dat u die poligraaftoetser behoorlik inlig oor die feite van die beweerde wangedrag sodat hulle akkurate vrae aan die werknemer kan stel. Gedurende ’n toets sal van die werknemer verwag word om slegs “ja” of “nee” te antwoord op die vrae wat aan hom of haar gestel is. Die resultate van ’n toets dui bloot aan of daar misleiding was of nie. Moet dus nie ’n deeglike ondervraging or substantiewe antwoorde verwag nie. Sommige poligraaftoetsers is hoogs vaardig in wangedrag ondersoeke, maar moet vooraf in kennis gestel word dat hul hulp in hierdie verband nodig is.
Weiering om ’n poligraaf toets te doen
Werknemers mag dalk weier om hierdie toetse te doen. Dit is vanselfsprekend dat hierdie weiering dikwels aangesien word as ’n skulderkenning. Wees egter baie versigtig om te vinnig so ’n aanname te maak. Indien indiensnamekontrakte uitdruklik bepaal dat werknemers bereid moet wees om poligraaf- toetse te ondergaan, moet hulle aan hierdie verpligting herinner word. Sou ander bewyse wangedrag suggereer, moet die betrokke werknemer gewaarsku word dat hy of sy aan insubordinasie skuldig is. Indien u versoek steeds geweier word, aanvaar dit so. Poligraaftoetse alleen kan nie die grondslag van ’n billike ontslag wees nie. Herfokus u ondersoek om gewigtiger bewyse te vind, naamlik: getuies en dokumentêre- en audiobewysstukke. U mag selfs vind dat daar afdoende bewyse is en dat ’n poligraaftoets oorbodig is.
Ten slotte
Moet nooit te veel waarde heg aan poligraaftoets uitslae nie. Dit is menslik om afleidings te maak van ’n misleidende hoeveelheid uitslae, maar so ’n uitslag sal nie altyd ’n Kommissaris oortuig nie. Ons beveel dus aan dat poligraaftoetse tydens voorlopige ondersoeke na die wangedrag gebruik word. Dit is veral nuttig om onskuldige werknemers te identifiseer en op skuldige werknemers te fokus. Sodra u aandag in die regte rigting gevestig is, kan die ondersoek fokus op die ware feite en die naspoor van relevante getuienis. Daarsonder is ’n verdedigbare uitkoms onmoontlik.