Ek wil ’n dissiplinêre verhoor vermy: moet ek summier bedank?

Dissiplinêre optrede word daagliks in Suid-Afrikaanse werksplekke teen werknemers geneem. Baie werknemers vrees die gevolge ’n skuldigbevinding en glo dat die beste uitweg is om summier te bedank. Ongelukkig verkeer meeste van werknemers onder die wanindruk dat hul sodoende komende dissiplinêre optrede teen hulself kan vermy. Regspraak van 2016 het ook verwarring veroorsaak toe bevind is dat werknemers wat summier bedank het, nie verhoor kon word nie, omdat hul hul werksverhouding eensydig beëindig het (Mtati v KPMG Services (Pty) Ltd (2017) 38 ILJ 1362 (LC)). Die Arbeid Appèlhof het egter hierdie kontroversiële bevinding verwerp in Junie 2018 (Coetzee v The Zeitz MOCAA Foundation Trust and others [2018] ZALCCT 20). Die vraag wat dus in die reg gevra moet word, is: moet werknemers wat dissiplinêre verhore wil vermy summier bedank?

Regsgevolge van summier bedank

Eerstens moet beide werkgewers en werknemers kennis dra van die regsgevolge van werknemers wat summier bedank. Dit is ’n inherente eienskap van onbeperkte dienskontrakte dat billike kennisgewing van bedanking aan werkgewers gegee moet word. Kennis mag nooit minder as die minimum voorgeskrewe kennis, volgens artikel 37 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, wees nie. Dit beteken dat die lengte van kennisgewing van ’n werknemer na bedanking nie minder as: een week mag wees, indien die werknemer vir ses maande of minder aangestel is; twee weke mag wees, indien die werknemer aangestel is vir meer as ses maande maar nie langer as ’n jaar; of vier weke, indien die werknemer aangestel is vir ’n jaar of meer, óf in die geval van plaas- of huiswerkers, in diens geneem was vir meer as ses maande.

Indien ’n werknemer nie die vereiste kennisgewingsperiode uitwerk na bedanking nie, word kontrakbreuk gepleeg. Die werkgewer het twee remedies tot hul beskikking: eerstens kan die werkgewer die bedanking aanvaar en tweedens kan nakoming van die dienskontrak en die gevolglike uitdien van die kennisgewingsperiode vereis word. Aaanvaarding van die bedanking behels die beeïndiging van die dienskontrak. Die werkgewer kan skadevergoeding eis van die werknemer vir hierdie kontrakbreuk. Die tweede remedie, naamlik die eis dat die voorwaardes van die dienskontrak nagekom moet word, is tot hierdie bespreking relevant. Waarop dit neerkom is dat werknemers verplig is om die volle kennisgewingsperiode te voltooi wat aan werkgewers verskuldig is.

Wat is die implikasie daarvan dat ek my kennisgewingsperiode moet voltooi?

Die algemene reël met betrekking tot of ’n werkgewer spesifieke nakoming kan eis, kan soos volg opgesom word: Die werkgewer is daarop geregtig om, in hierdie omstandighede gegewe, ‘n dienskontrak af te dwing as dit vir hom moontlik is (Thompson v Pullinger). Dit beteken dus dat werkgewers wat van hul werknemers vereis om die die volle kennisgewingperiode te voltooi, wettiglik geregtig daarop is om dit te doen.

Werkgewers is ook daarop geregtig om werknemers te dwing om kennisgewingsperiodes te voltooi met die oog op die instel van dissiplinêre optrede teen daardie werknemers. Aangesien sulke werknemers tegnies steeds in diens van die werkgewer is, is dissiplinêre aksie teen hulle dus steeds moontlik.

Verdere nadele van summiere bedanking om dissiplinêre verhore te vermy

’n Werknemer wat summier bedank het, wie se bedanking nie aanvaar is nie en daarna tydens ’n dissiplinêre verhoor skuldig bevind is, sal ook ander gevolge van hul keuse om summier te bedank moet dra. Werknemers wat besluit om summier te bedank en dan afgedank word, wat vergoeding wil eis na ontslag, sal nie deur die Kommissaris van die Kommissie vir Kommissie vir Bemiddeling, Konsiliasie en Arbitrasie (KBVA)  gunstig oorweeg word nie. Indien die werknemer dus vergoeding wil eis vir onbillike ontslag, sal dit moeilik wees om hierdie vergoeding te kwantifiseer, omdat hul reeds bedank het en tegnies nie meer ’n werknemer van die maatskappy is nie.

Wat moet ek dan doen?

Ons adviseer alle werknemers wat ’n dissiplinêre verhoor in die gesig staar om nooit impulsiewe besluite – soos om summier te bedank – te neem nie. Summiere bedanking waarborg geensins dat u nie in elk geval dissiplinêr verhoor sal word nie. U kan moontlik alles verloor. Dit is noodsaaklik om in so ’n geval eerder ’n Arbeidsreg prokureur te raadpleeg om u van u regte kan vergewis. Indien u enige navrae het, kontak ons gerus.